Ons Storie

Carien de Klerk, direkteur van Goeie Hoop Sielkundige Diens, vertel van hul gratis dienste aan behoeftige gemeenskappe en individue.

Ons visie

Om die waardigheid en emosionele welsyn van kinders, volwassenes en gesinne te ontwikkel.

Ons missie

Om toeganklike, professionele geestesgesondheidsdienste deur individuele – en groepterapie te bied.

Ons Geskiedenis

Elzabé Broekmann, stigter van die Goeie Hoop Sielkundige Diens (GHSD), vertel hoe dit alles begin het: “Ek het jare lank begeer om by te dra tot die sielkundige welsyn van my mede-Suid-Afrikaners. Daarom, in 1996, toe die toekoms van die enigste diens wat destyds gratis terapie aan die gemeenskap gebied het, in die weegskaal was, het ek besluit om ‘n nuwe diens te skep.

“Toe die Eenheid vir Voorligtingsielkunde (US) (wat ‘n sielkundige diens aan die gemeenskap gelewer het) gesluit het, het die direkteur van die eenheid ‘n alternatiewe gratis sielkundige diens by die Stellenbosch Provinsiale Hospitaal begin en ek is aangestel as die toesighouer van die internpsigoloë wat gewerk het by die hospitaal.

“Aan die einde van 1999, toe die universiteit sy finansiële steun aan hierdie projek onttrek het, het die toekoms van hierdie diens baie onseker gelyk. Danksy die hulp van die maatskaplike werker in die hospitaal kon ek en die staatspsiater gelukkig met hierdie onontbeerlike diens voortgaan en die onsekerheid van 2000 oorleef. Vanaf 2001 kon ons, danksy die finansiële ondersteuning van ‘n Stellenbosch Trust, ononderbroke diens lewer.

“In 2003 het ek en die die staatspsiater ‘n soortgelyke diens by die TC Newman Gedenk Hospitaal in die Paarl begin. Ten spyte van finansiële probleme bied hierdie twee instansies tot dusver berading aan sowat 1 000 mense per jaar. Hier vind hulle ‘n simpatieke oor en deskundige sielkundige hulp.

“My persoonlike leuse is om te luister na die musiek van die lewe deur die onvermydelike statiese. My hoop is dus dat ons kliënte by GHSD ook deur ons pogings die vermoë nsal ontwikkel om die musiek van die lewe te hoor, alhoewel dit moeiliker is in hul ongunstige omstandighede.

“Ek salueer die gees van gewone Suid-Afrikaners, veral diegene wat ten spyte van hul swaarkry en armoede moedige en betekenisvolle lewens lei. Mag ons GHSD-personeel se omgee, asook dié van ons donateurs, asook ons ​​geloof in God, ons land en sy mense, nog vir baie jare deur ons kliënte ervaar word.”

Ons statistieke

2018

  • 23 jaar van ononderbroke dienslewering
  • 3 974 beradingsessies
  • 1 498 individuele
  • 48% kinders
TOTAAL
BEHANDEL
1 498

KINDERS
(0-18) 747

VOLWASSENES
(18+) 751

FAMILIES
22
TOTALE SESSIES
3 974
  2 493   1 481  
MANS 422 161  
VROUE 325 590  
AFRIKAANS 678 680  
ENGELS 58 52  
isiXHOSA 11 19