Mariëtte Hutton, ‘n geakkrediteerde kunsterapeut, is ‘n begaafde kunstenaar wat met haar talent tot groot voordeel van
GHSD (Goeie Hoop Sielkundige Diens) se kliëntebehandeling is.

Sy is gebore in Vanderbijlpark waar sy haar kinderjare deurbring en trek met haar ouers na Sasolburg op 9-jarige ouderdom. Hulle gaan woon later in Alberton waar sy haar hoërskool voltooi.

Nadat sy haar BA (Log)-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, praktiseer sy vir 25 jaar as spraakterapeut en oudioloog. In hierdie tyd doen sy terapie by skole vir serebraal-gestremdes en klinieke van die Departement Onderwys.

Gedurende die 15 jaar daarna bedryf sy haar eie privaatpraktyk en bekwaam haar ook in daardie tyd verder in sielkunde en ook in funksionele terapie. Later volg sy dit op met kunsstudies en studies in die gebruik van ekpressiewe kunsvorme in terapie.

Mariëtte werk vanaf die begin van vanjaar by GHSD as terapeut deur middel van kuns. Sy is geregistreerd by ASCHP (https://www.aschp.net/), ‘n geakkrediteerde raad vir onder andere beraders.

Haar werk by GHSD behels terapie en emosionele ondersteuning aan veral getraumatiseerde kliënte (bv. as gevolg van seksuele mollestering en emosionele misbruik). Sy gee ook terapie aan mense wat verlies en eensaamheid, depressie, identiteitsprobleme, spanning en angs asook verhoudingsprobleme moet verwerk.

“Ek gebruik hoofsaaklik ekspessiewe kunsvorme soos beweging, skryf, verf, drama asook ‘n tegniek genaamd ‘Guided Drawing’  om die kliënte te begelei,” verduidelik Mariëtte.

“Die gebruik van kuns in terapie is nog redelik onbekend in Suid-Afrika. Ek geniet dit om kliënte te begelei tot nuwe insigte, vaardighede, hoop en vooruitsigte asook om hulle propleem-oplossend te help dink deur middel van die gebruik van verskeie kunsvorme. Dit bied aan hulle ‘n alternatiewe manier om hul probleme te help hanteer.”

Volgens Mariëtte is ‘n kollektiewe uitdaging in ons land die gebrek aan genoeg instansies om die geweldige sielkundige behoeftes van getraumatiseerde mense professioneel te kan help. Ons  benodig  ook instansies en prosedures wat aanmeldings en ondersoeke  meer toeganklik kan maak en op ‘n meer slagoffer-vriendelike en ondersteunende manier te kan hanteer.

Mariëtte is getroud met Harold en het drie getroude kinders en vyf kleinkinders wat aan hulle baie vreugde verskaf.

Kontak Mariëtte Hutton by mariethutton@gmail.com.