Die COVID-19-epidemie veroorsaak ‘n rits fisiese, emosionele, en dan ook finansiële uitdagings vir baie mense in ons samelewing. Finansiële druk en stres plaas individue en gesinne onder groter risiko vir depressie, angstigheid, woede, gedagtes van selfmoord en ander fisiese siektes.

Soos ons weet, is daar ‘n styging in huishoudelike geweld, asook
‘n gevoel van hulpeloosheid. Dwelmmisbruik (onwettig, asook voorskrifmedikasie) en onwettige alkoholmisbruik is aan die toeneem. Kinders is soms meer aggressief, of meer angstig en wil nie vir mamma of pappa alleen los nie.

As jy in hierdie onsekere tyd ‘n slagoffer van finansiële druk en stres is, is daar aksies wat paartjies en gesinne met kinders kan neem om hierdie druk en stres beter te hanteer.

Tree dadelik op. As ‘n persoon in die huishouding hul werk verloor het, of as gevolg van die grendelregulasies nie ‘n inkomste kan verdien nie, is daar ‘n drastiese afname in die algemene inkomste van die familie of huishouding. Skok en ongeloof is die normale eerste reaksies. Dit is daarom nodig om seker te maak dat jy nie jou van die samelewing onttrek of jouself isoleer nie. Inteendeel, dit sal goed wees om ‘n konstruktiewe benadering te gebruik. Byvoorbeeld, ‘n individu wat sy of haar werk verloor het, kan dadelik aansoek doen om werkloosheidsversekering.

Dit is belangrik om die gesin bymekaar te bring om die situasie te verduidelik. Kinders kom gou agter as daar iets nie pluis is nie, en om hulle uit die besprekings en gesprekke te hou, kan hul eie angstigheid vererger. Deur as ‘n gesin bymekaar te kom en saam hanteringstrategieë te bespreek, vorm nie net ‘n oorlewingsgesindheid in die gesin nie, maar dit kweek ook ‘n ondersteuningsomgewing binne die gesin.

Een van die eerste besprekingspunte in hierdie konteks is om as ‘n gesin te besluit wat beskou word as essensiële behoeftes en wat as ekstra uitgawes. Die gesin sal moet prioritiseer. So kan ‘n gesin dan begroot vir die belangrikste sake soos byvoorbeeld die huuruitgawe, elektrisiteit en kos, en eers die ander nie-essensiële kostes uitskakel.

Hou die kinders betrokke. Dit is belangrik dat kinders ‘n effektiewe bydrae tot die gesin in hierdie stresvolle tyd lewer. Byvoorbeeld, as ‘n ma langer ure moet werk omdat die pa sy werk verloor het, maar sy is gewoonlik verantwoordelik vir die voorbereiding van die maaltye, kan ouers hier hul ouer kinders aanmoedig om betrokke te raak by die voorbereiding van die gesin se etes. Deur seker te maak dat kinders aanhou met hul algemene huistake, help hulle ‘n sin van normalitet in die situasie kweek.

Dit is ook belangrik om te besef dat kinders, veral in hierdie tyd, leer hoe om frustrasies en krisisse te hanteer. Deur te kyk na hoe hul ouers reageer in so ‘n situasie, vorm hulle hul eie hanteringsvaardighede.

Kyk mooi na jouself. Wanneer jy jouself  in die middel van ‘n finansiële, persoonlike, of familie-krisis bevind, is dit belangrik om persoonlike beheer te handhaaf. Wanneer jy gesond bly, gee dit sommer jou uithouvermoë ‘n hupstoot en mens het die energie wat jy benodig om die probleme en stres te hanteer. Wanneer ons stres, is ons soms geneig om gesonde gewoontes opsy te skuif, wat dan kan lei na nog meer stres. Moenie dat dit gebeur nie.

Eet gesond, kry genoeg slaap, oefen om van jou stres ontslae te raak en verminder jou alkoholinname. ‘n Mens kan ook as gesin saam gaan stap, nie net is dit voordelig vir jou gesondheid nie, maar dit is ook kosbare familietyd.

Behou jul roetines. Deur gesinsroetines te behou, soos om as gesin saam te eet, bordspeletjies saam te speel, dieselfde verwagting rondom skoolwerk te hê en by familiereëls te hou, kweek die gesin ‘n sin van stabiliteit en stel dit ook die kinders meer gerus.

Verminder die angs. Ons moenie vergeet dat daar in die verlede ook al mense was wat deur dieselfde situasie van finansiële ontstabiliteit gegaan het nie. Hulle het geleer om dit te oorkom. Dus, in hierdie COVID-19-grendeltydperk, is jy ook nie die enigste een wat hierdie finansiële druk ervaar nie. Moet asseblief nie angstigheid en woede inhou nie; praat met iemand wat na aan jou is, wat jy vertrou – veral oor jou gevoelens soos woede, verwarring en vrees. Familielede, asook ander individue, soos beraders by Goeie Hoop Sielkundige Dienste kan in hierdie tyd van stres baie help.

Probeer net een ding op ‘n slag. Daar mag dalk baie uitdagings wees, maar dit help nie om almal terselfdertyd te probeer oplos nie. Deur een probleem op ‘n slag op te los, gee aan jou ‘n gevoel van beheer oor die situasie.

Bly aktief en betrokke. Die verlies van werk of ‘n vaste inkomste kan veroorsaak dat jy meer tyd het om te top oor al jou uitdagings en probleme. Natuurlik het ‘n mens tyd nodig om te dink aan die pad vorentoe en om ‘n nuwe bron van inkomste te genereer, maar oorweeg dit om in hierdie grendeltyd ‘n tydjie te spandeer deur ander mense te help, soos vriende, jou kinders met hul skoolwerk, of selfs ‘n gemeenskaps-of kerk-organisasie. Deur iets vir iemand anders te doen, is nie net voordelig vir hulle nie, maar dit help jou ook om persoonlike gevoelens van selfwaarde te kweek.

Die hantering van stres en die bekommernis van ‘n kleiner inkomste is nie maklik vir enige individu of gesin nie. Daar is geen maklike antwoorde of vinnige oplossings nie, maar deur so gou as moontlik uitgawes te verminder, om binne die gesinskonteks prioriteite te bepaal, besluite te neem en angs te verminder, kan individue en gesinne mekaar versterk en voorberei vir die toekoms totdat hierdie grendelstaat verby is. 

Die Here sorg vir my soos ‘n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie. Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien. Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe. Soos ‘n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is. Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.

Die Boodskap: Psalm 23:1-4

Marli Goosen
Intern by Goeie Hoop Sielkundige Diens Paarl-tak
marligoosen89@gmail.com