Elzabé Broekman en haar man, Neil, by Denis Goldberg in Houtbaai tydens ‘n besoek in 2018.

Goeie Hoop Sielkundige Diens bring hulde aan Denis Goldberg, `n jarelange ondersteuner en vriend van ons organisasie. Ons harte gaan uit na sy familie, sy vriende en medewerkers, die personeel en kinders van House of Hope, en veral na sy lewensmaat, Deidre.

Ons het Denis ontmoet toe dr Deidre Abrahams, destyds ‘n raadslid van Goeie Hoop, hom as spreker by ons jaarvergadering voorgestel het. Hy het dele uit sy lewensgeskiedenis vertel, onder andere die Rivonia- hofsaak en ons kon hom nie laat gaan nie! Ons was en is diep geraak deur sy opofferende lewe en sy positiewe ingesteldheid ten spyte van al die leed en trauma wat hy beleef het.

Denis het Goeie Hoop nie net oor die jare  finansieel ondersteun nie, maar met ons doelstelling om mense met lewensprobleme by te staan en veral kinders te help om op hul beste te funksioneer, identifiseer, en ons aangemoedig.  Sy eie trust, The Denis Goldberg Legacy Foundation, het House Of Hope op Houtbaai gestig, waar kinders opgelei kan word in kuns, musiek en dans, asook met skoolwerk gehelp kan word.

Ons het ‘n kosbare vriend verloor, ‘n man diep-gewortel in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. ‘n Voorbeeld van iemand wat sy lewe gewy het aan omgee en bemoediging in woord en daad.

Mag ons, net soos Denis, aanhou om mense in staat te stel om te sê: “Life is Wonderful!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *